SOSIAAL DIGITAAL

ZAAN SONNEKUS IS TIENERKWAAD

In die kort tydjie wat ons vir Zaan Sonnekus leerken het, het hy met liedjies soos, SOOS HEL, EK KAN NET BID en HOOG ons laat weet dat daar ‘n duidelike nuwe stem is wat weergalm in Afrikaanse musiek.

Zaan lyk soos ‘n tipiese rocker uit die Seatle ‘grunge scene’ van die vroeë negentigs, maar wanneer hy die mikrofoon bekruip en van agter sy ongetemde bos krul hare en begin sing, besef jy hierdie is ‘n kunstenaar wat duidelik iets het om te sê.

Sy stem kraak onmiskenbaar en sy lirieke sny met die presisie van ‘n dokter se skalpel – of dalk ‘n kunstenaar se kwas – en met elke nuwe noot luister ons met afwagting na wat hy volgende gaan uitstoei in sy lirieke.

Tydens onderhoude gesels Zaan selfversekerd oor die ervarings wat sy musiek help slyp het. Hy deel sy verliese, lewenslesse en ontleed sy eie lirieke met ‘n wysheid wat sy jeug verraai. Hy is meer as ‘n musikant of sanger. Hy is ‘n filosoof in ‘n leerbaadjie en hy het pas sy nuutse boodskap, TIENER KWAAD met ons gedeel.

Volgens Zaan handel TIENER KWAAD oor daardie onnodige woede waarmee ons almal soms stoei en die idee het onstaan terwyl hy en ‘n paar van sy vriende besig was om te kuier een aand. ‘’Ek was besig om met een van my vriende te gesels en hy het vir my gese: bra ek verstaan nie. Hoekom is ‘n mens altyd kwaad veral as jy jonk is? Ek het hom gevra wat hy bedoel en hy het vir my gesê ons was net onnodiglik altyd kwaad, almal was net altyd kwaad.’’ Zaan het hom geantwoord dat dit amper soos ‘n konstante tiener kwaad was. Hy het dadelik besef dat daar iets in daardie woorde gesteek het en hy het na sy kamer toe gehardloop en dit neer geskryf en so het die idee vir die liedjie ontwikkel.

Tiener kwaad vang die gevoel vas van toe jy jonk was en in ‘n bose bui by die huis ingestap het omdat jy ‘n slegte dag by die skool gehad het. Jy het verby jou ouers gestorm en sonder rede begin deure klap. Vir Zaan vang die lied ‘n gevoel waarmee baie van ons, selfs in ons volwasse lewens mee worstel. Ons almal voel nog daardie ongemak, angs en woede. In sy eie woorde sê hy: ‘’Dit maak nie saak hoe oud jy is nie. Ons almal het nog tiener kwaad binne ons. Ons besef dit nie altyd nie, maar ons sien ons ouers voor ons groot word en almal wing dit en jy leer maar net hoe om met daai kwaad te deal.’’  

kyk na tiener kwaad se musiekvideo hier.

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: