SOSIAAL DIGITAAL

WILLEM BOTHA BEMAGTIG VROUE MET ‘MASTERCLASSES’

Willem Botha het as sanger, TV-aanbieder, fotograaf én grimeerkunstenaar diep in die harte van die publiek gekruip. Hy is ’n getuigskrif van wat gedoen kan word as jy bereid is om hard te werk en te léér. Vanjaar bied dié plaasseun ’n hele rits eksklusiewe MUD Masterclasses aan nadat hy ook sy eie palet, The Chosen Collection, deur dié gesogte handelsmerk einde 2019 bekendgestel het.

“Ek was nog altyd lief vir fotografie – om alles vas te vang wat ek en my vriende en familie gedoen het. Dit het begin as ‘n stokperdjie wat nou omgeskakel het in ‘n afdeling van my loopbaan,” het hy vertel. “Boonop hou ek van kuns en ’n mooi prentjie, en is dit nie maar wat grimeerkuns, haarstilering en fotografie is nie?” het hy gesê-vra. Willem het begin oefen om die hele prentjie mooi te maak en het homself daarop toegespits om te leer hoe om alles te doen om daardie perfekte prentjie te kry van A tot Z.

Van die land se bekendstes soos Karlien van Jaarsveld, Elana Afrika, Riana Nel, Leah, Lianie May, Demi-Lee Moore en Laurika Rauch is al deur Willem mooigemaak – met asemrowende voorbladfoto’s wat daarop gevolg het. Hy het ook al name soos Mej. Heelal 2017, Demi Leigh Nel Peters en Mej. Heelal 2019, Zozibini Tunzi, voor sy kameralens gehad.

“Toe ek in 2006 aan Idols deelgeneem het, het ek baie geleer oor hoe om jouself te stileer vir die verhoog en foto’s. Ons het almal mekaar ook gehelp en ek kan sekerlik sê my belangstelling het daar begin,” het hy vertel. “My vriendinne was partykeer te moedeloos om te begin grimeer voor ’n aandjie uit en dit was altyd ’n lekker uitdaging om sommer hulle hare en grimering te doen”. “Ek het myself verder op YouTube geleer en toe gebeur dit dat Leah reklamefoto’s benodig. ‘n Grimeerkunstenaar stoot die kostes nog verder op en toe het ek ingespring en met nét ’n oogpotlood haar hele oog geskakeer,” vertel hy.

Willem het ook begin om die kunstenaars en modelle wat hy moes afneem, self te grimeer en hul haarstilering te doen.

Vandag word Willem hoog geag as grimeerkunstenaar – soveel so dat die internasionale grimeringshandelsmerk, MUD, Willem as hul ambassadeur gekies het én hy nou ook spog met sy eie kleurpalet – The Chosen Collection – wat deur hulle vervaardig word.

“Wat ’n ongelooflike reis was dit nie sover saam met Willem nie. Ek het aanskou hoe hy met grimering begin het as ’n behoefte vir sy fotografie tot waar hy nou ontluik het in een van die land se top grimeerkunstenaars,” het Brenda Thambe, eienaar van MUD Africa, gesê. “Willem het die vier kleure vir sy eerste MUD-palet so oordeelkundig gekies dat dit die verbruiker in staat stel om soveel daarmee te verrig – bykans enige voorkoms is moontlik. Dít is waarom dit so populêr is en ons kan nie wag vir sy volgende Collection-palet nie,” het sy bygevoeg.

Dit is ook met trots dat hul samewerking gelei het tot die eksklusiewe MUD Masterclass-reeks waartydens Willem van sy interessante wenke deel. “Ons is so opgewonde oor die MUD Masterclasses wat Willem regoor Suid-Afrika, Namibië en Botswana gaan aanbied en dis regtig ’n geleentheid wat elke vrou moet bywoon,” het Thambe gesê.

“Ek het al soveel navrae op my sosiale media gekry van dames wat hulp benodig met hul grimering. Ek wil help en met dié Masterclasses kan ek nou elke vrou bemagtig om op hul beste te lyk én ook so te voel,” het Willem gesê. “Jy hoef nie baie grimering te hê om soos ’n ster te lyk en voel nie.” ’n MUD Masterclass met Willem is ’n lekker intieme oggend of aand met musiekgenot en grimeerwenke van A tot Z.

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: