TRIVENO MAAK VREDE MET SY VROU SE DOOD MET EMOSIEBELAAIDE ENKELSNIT

SINGER

Twee jaar na die vrystelling van sy gewilde 2019-treffer, Not Perfect, is die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer – Triveno Smith – terug met ’n nuwe emosiebelaaide enkelsnit. 

WALKING TALL (ook die titelsnit van die album), wat deur die kunstenaar self geskryf is tydens sy vrou se stryd met kanker, is ’n country-popsnit met ’n blues-aanslag. Dit gaan daaroor om vrede te maak met jou realiteit en nie op te gee wanneer dit swaar gaan nie.

“My eerste vrou, Alecia, is in 2017 oorlede. Ons was vir elf jaar getroud. Alhoewel WALKING TALL reeds voor haar dood geskryf is, herinner dit my om nooit op te gee nie – al gebeur wat,” deel hy. “Wanneer die lewe struikelblokke op jou pad sit, word jou grootste nagmerrie waar. Myne was dat my vrou sou doodgaan en ek en ons sesjarige dogter, Gabriella, alleen sou agterbly. Toe dit gebeur, het my lewe uitmekaar geval. Gelukkig het my situasie met tyd verbeter en was ek gelukkig genoeg om weer liefde te vind. Ek en Christelle het vanjaar ’n pragtige babaseuntjie, Matthew Steven, ryker geword.”

Alhoewel die tema universeel is, is sy nuutste vrystelling baie persoonlik en na aan die hart. “Ek het die snit geskryf, om myself en my vriende te bemoedig, toe ek ’n persoonlike krisis moes oorkom,” verduidelik die sanger. “Die lewe is soms moeilik, maar daar is altyd hoop dat dit weer sal beter gaan. Soms moet ons deur moeilike tye gaan om te besef wat regtig belangrik is.”

Hy glo dat dit sal aanklank vind by ’n wye gehoor. “Die musiek is spesifiek verwerk en gemeng om die emosie van die liedjie na vore te bring. ’n Opgewekte koor sal bewonderaars laat glimlag en hoop gee vir diegene wat daarna luister.” 

Die musiekvideo, waarvan die regie deur Zunaid Allie van Native Indian Films behartig is, neem die kyker op reis deur Paarl en kry dit reg om die emosie van die liedjie perfek vas te vang. “Ek wou tonele uit my geboortestad en Lantanastraat, waar ek grootgeword het, insluit. Die idee was om deur die hele video te loop (WALKING TALL) om die tema en boodskap van die liedjie te komplementeer,” vertel die musikant. “Die eerste ding wat ek vir Zunaid gevra het was dat daar baie emosie in die video moes wees. Ek dink ons het goeie werk gedoen en dat dit almal se harte sal raak wat daarna kyk.”

Triveno is in Paarl (Weskaap) gebore en het grootgeword met gospelmusiek en het as tiener begin kitaar speel en musiek skryf.  Hy werk reeds vir sewentien jaar in die musiekbedryf en het sy eerste professionele opname in 2012 by Franschhoek Recording Studios gedoen met die hulp van Uys Visser en Helmut Meijer. In 2014 is sy eerste album, Brighter Day, vrygestel waarna talle gewilde liedjies en ’n sessnit-kortspeelplaat saam met Southern Lights gevolg het.

Sy nuutste album, Walking Tall, het verskeie groot treffers (Not Perfect, Foreign Land, Ignite en Lost In Berlin) opgelewer, wat deur groot radiostasies, soos RSG, Radio Tygerberg, CCFM, Groot FM en meer, gespeel is. 

Oor die jare het Triveno die voorreg gehad om die verhoog te deel met bekende name soos Joshua Na die Reën, Jesse Clegg, Mel Botes, Hot Water, Emo Adams en Jonathan Rubain, en by van die land se grootste musiekfeeste opgetree.

Musikante soos Steven Curtis Chapman, Eric Clapton, MW Smith en Coldplay het die grootste invloed gehad op sy musiek sover, maar hy erken dat hy hard besig is om sy eie klank in die plaaslike musiekmark te vestig.

Volgens die kunstenaar, put hy inspirasie vir sy musiek uit die lewe, liefde, verlies en geloof. “Die lewe is kort en moenie as vanselfsprekend aanvaar word nie. My opinie oor baie dinge het verander toe my vrou oorlede is. Kom ons leef in die oomblik en wees dankbaar vir wat ons het, want dit kan alles in ’n oogwink verander.”

Triveno het nog baie planne vir die toekoms, wat ’n Afrikaanse album insluit. Vir nou, geniet hy dit egter om pa te wees en soveel op te tree as moontlik. 

WALKING TALL is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

LUISTER HIER OP SPOTIFY

LUISTER HIER OP APPLE MUSIC

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: