SOSIAAL DIGITAAL

SAARKIE

Die rockgroep, SAARKIE, was nog altyd anders en het nog altyd aandag getrek waar ookal hulle gaan. Hulle ruk en rol al vir vyftien jaar en hierdie jaar vier hulle met ’n splinternuwe enkelsnit, musiekvideo, album én lid! 

Alouise, oftewel Ella, neem haar plek in as baskitaarspeler en sanger in die groep. Hierdie Vrystater van Bethlehem speel al klavier vandat sy drie is en werk nou amptelik tien jaar in die musiekbedryf. “Dit is ’n groot voorreg om saam met Adèle en Lila musiek te maak en dit voel asof ek my musiek vryheid gee wanneer ek dit doen,” sê sy oor hierdie opwindende geleentheid. “Ek het verlief geraak op hulle klank toe ek eers agter die baskitaar inspring om die liedjies te leer en sien uit na die toekoms.”

Hierdie Ghoema-bekroonde musikant en liedjieskrywer (Bella & Buster) het in 2011 haar debuut gemaak as deel van die groep, Onbeskaamd, en speel steeds so af en toe saam met hulle, asook saam met Bok van Blerk se band. Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ’n musiekonderwyser en fietsryer en werk sy ook daaraan om haar eie musiek op te neem.

SAARKIE IS TERUG MET NUWE LID, ENKELSNIT, VIDEO ÉN ALBUM!

Adèle en Lila is baie opgewonde om haar aan boord te hê en sê: “Ons voel dat Ella ons, as musikante, uitdaag en dat sy iets nuuts na die tafel toe bring. Ons aanhangers kan uitsien na wat voorlê.”

 Om alles nog meer opwindend te maak, het die meisies besluit om ’n splinternuwe enkelsnit, musiekvideo en album vry te stel, waarvan Mjön van Blommestein wat die groep verlaat het, steeds deel is. “Mjön het gedurende grendeltyd ’n nuwe besigheid begin wat baie van haar tyd opneem en het daarom besluit om vir eers daarop te fokus”, deel Adèle Fouché en Lila Botha. “Dis altyd hartseer om ’n sussie te verloor en ons gaan haar mis.”

WAAR LÊ JOU HART? is die derde vrystelling vanaf hulle nuwe album en is deur Adèle geskryf. Volgens haar gaan hierdie Afrikaanse “African Pop”-liedjie oor waar ’n mens se hart lê in hierdie onsekere tye wat jou dwing om ’n “reality check” te doen.

 “Dit is ’n uitnodiging vir iemand om saam met jou weg te gaan op ’n avontuur.

Die musiekvideo, wat deur Unbreakable Media se Marlie van Oudtshoorn vervaardig is, sluit perfek by die tema van die liedjie aan en gaan oor die drie Saarkies wat die pad vat – in ’n 1969 BMW 1602 Bauer LHD Cabriolet – om ’n avontuur aan te pak. Die video is in die Rietvlei Natuurreservaat verfilm. “Die idee is geïnspireer deur die liedjie en boodskap is dat wanneer jy iemand vra om saam met jou op ’n road trip te gaan, wil jy weet waar hulle hart lê,” sê hulle.

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: