SOSIAAL DIGITAAL

PIEKNIEK EN PADKOS UIT ALMARE SE KAROO-KOMBUIS

Net sodra ek dink dit gaan nooit weer lekker warm word nie, word ek een oggend wakker en kry daai GEVOEL… spring fever! Baie soortgelyk aan Saturday Night Fever – dit voel asof ek moet ‘STRUTT”. As jy glad nie weet waarvan ek praat nie, het jy ‘n baie ou fliek om te gaan google. Dan sal jy verstaan dat die gevoel wat op hierdie pragtige dag deur my are bruis maak dat ek loop met ‘n heel ander wip in my stap. Daar is selfs BeeGees wat in my kop kom kuier. Ja-ja, ek weet; nog ‘n google oomblik.

Op so ‘n dag is alles skielik duideliker, helderder, welriekend en vars. Die Jasmyn wat in my tuin blom het baie hiermee te maak. En as juffrou Jasmyn blom, is dit amazing: Lente! Die lekkerste seisoen in die Karoo. Heerlike vars dae met die mooiste weergawes van groen onder die son. Nog geen teken van die hitte wat vining genoeg gaan gebeur nie. Die spekboom blom rooi, die Jakarandas begin uitbundig pers pronk en almal glimlag. Dae soos hierdie is vol belofde, vol herhinneringe van kleintyd se plesier. Kleintyd se herhinneringe is verder in die verlede as selfs die BeeGees.

Dink aan padvat, kinners in karre pak, padkos versigtig inpak en net ry… Dalk met ‘n spesifieke bestemming in gedagte, dalk net omdat die kosmosse blom. Dit was een van ons gesin se plesiere. Altyd uitgeloop op ‘n avontuur, ook. Soos die keer dat my mense my in ‘n winkeljie in Bonnievale vergeet het. Ek kan nie eers meer onthou watter tyd van die jaar dit was nie, en ek het ook niks daarvan oorgehou om met my Psigiater oor te gesels nie. Of het ek dalk? Is dit dalk waar my liefde vir sjokolade vandaan kom? Maar ek loop nou my eie storie vooruit.

Twee Vrystaatse gesinne in twee Vrystaatse voertuie met 4 kinders tussen die ouderdomme van so 4 en 12 tussen hulle. Ek was die jongste. Die Vrystaters het gaan wynproe in die Kaap, amper so ‘n epiese tog soos die uittog uit Egipte. Die logistiek moes selfs vir my super organiserende ma ‘n uitdaging gewees het. Die Fourie en Viviers gesinne het   êrens oornag en teen oggend teetyd na ‘n gepasde boom begin soek. Daar moes seker koeldranke of iets by die winkel in Bonnievale gekoop word, want ons was op ‘n stadium almal binne-in daai winkel. Toe daar vertrek word, dink my ouers ek is by die Viviers in hul motor, die Viviers weet van niks. By die perfekte boom aangekom is padkos uitgepak. Maar daar was een eter te min. Alles is weer opgepak en teruggedraai om die wesie te loop soek.

Kom terug by die winkel en kry my op die toonbank, heel gelukkig met baie sjokolade en koeldrank om my gelukkig te hou. Die arme tannie moes seker maar gedink het hulle sou my een of ander tyd kom soek. My pa het so skuldig gevoel dat ek daardie aand vir die heel eerste keer self kon besluit wat ek wou eet. My eerste restaurant bestelling!

Ons het menige pieknieks gehou. My ma was baie lief om ‘n mandjie te pak en sommer in die veld – altyd onder ‘n mooi boom by ‘n stroom – ‘n piekniek te hou. Dit was so lekker.

Daarom, as die seisoen draai, begin ek met lang oe na my mandjie-goed kyk en ek beplan wat in daardie mandjie moet gaan. En wie daarin gaan deel. Dis baie belangrik, die delers of eters. Dit moet beslis prettige mense wees. Geen brombere nie en hulle moet iets anders geniet, iets wat nie sommer ‘n gewone tafel gaan haal nie. En ‘n lekker koel wyntjie, natuurlik. As daar borrels in is, des te beter. Dan gaan die wyn in die yskas in en die voorraad vir die maak van piekniek kos kom uit.

Maklike eetgoed: Skotse eiers, flessie vleis, tuisgemaakte kaassmeer, 5 minute skons, winkel koue vleis, slaai goed om op die winkel ciabatta te pak. Mosterd, olywe, vrugtesap (daar is mos maar altyd een wat suiwer gewoontes het!) vir ‘n mimosa en natuurlik regte botter. En varsgebakte broodrolletjies. Vir die flessie vleis.

FLESSIE VLEIS:

BESTANDELE:

Stowe vleis. Enige vleis. Vark werk goed maar hiedie keer het ek brisket gebruik.

Lourierblaar

Heel knoffel toon – een per vles

Kruie – ek hou van tiemie of salie by vark en roosmaryn by lam. Gebruik jou verbeelding, Daar is nie ‘n verkeerd nie net anders en interessant.

Vleisaftreksel. Tannie Ina het altyd iets om te gebruik.

Uie ringe

Tamatie smoor wat in die yskas wegkruip van ‘n vorige kook ekapade wat al amper dryg om in ‘n wetenskap eksperiment te verander, maar nog nie.

Sout en peper

2 E Botter

3 E meel

METODE:

Ek steriliseer die flessies en hul deksels met kookwater. Sny die vleis in stukke wat net groot genoeg is om in lagies binne in jou flesse te pak. My flesse is so +/- 300ml, so ek sny die vleis redelik klein. Nou pak jy ‘n laag vleis, een ring ui, laag vleis, ui, vleis, ui en eindig met daai tamatie as jou fles amper vol is. Druk die lourierblaar langs die kant in, ook die knoffel toon. Maak die vles vol met vleisaftreksel tot bo. Seël die deksel mooi dig. Dis belangrik dat die fles dig toe is, anders het jy ‘n mooi gemors op hande.In ‘n pot, sit ‘n skoon afdrooglap op die bodem. Pak jou flesse in die pot. Gooi kookwater in tot by die flesse se nekke. Kook op ‘n matige hitte vir 2 ure. Die afdrooglap help dat die flesse nie direk op die hitte kook nie en nie dalk bars nie. Nog ‘n mooi gemors. ‘n Gemors wat nie eers die sterkste koppie koffie sal maak dat jy kans sien om dit skoon te maak nie. Na 2 ure haal jy jou flesse baie versigtig uit. Oppas hier, dis baie maklik om baie seer te brand. Laat op ‘n houtbord afkoel. Gooi die inhoud van die flesse uit; aftreksel eenkant en vleis eenkant. Die vleis is nou so sag dat jy dit kan vlok sonder veel moeite. Sit die gevlokte vleis terug in die flesse. In ‘n pan, smelt die botter, roer die meel by en na 3minute roer die aftreksel by. En siedaar; jy het ‘n roux gemaak! Hierdie sous is heerlik saam met die gevlokte vleis op ‘n vars bun!

SKOTSE EIERS

SKOTSE KWARTEL-EIERS

BESTANDELE:

2 eiers per person. Hang natuurlik af wie die persone is, as my geliefde Pieter daar is, maak ek ekstra.

Ek gebruik graag kwartel eiers. Hulle is mooi klein en die finale produk net soveel makliker om te hap. As vars kwarteleiers moeilik bekombaar is, kan gepekelde kwarteleiers baie suksesvol gebruik word. Die pekel verskaf ‘n heerlike mosterderige smaak. Pieter die fynproewer sê so, en hy is altyd reg oor enige kosverwante goeters.

Doodgewone eiers is natuurlik heeltemal perfek.

4 varkworsies. As jy gewone eiers gebruik maak dit 6 varkworsies. Jy kan varkmaalvleis ook gebruik, maar die worsie het klaar allerhande lekker geurmiddels in.

Bees maalvleis gelyk aan die hoeveelheid vark.

1 eier

Sout en peper

Speserye van jou keuse

Meel

2 eiers, geklits

Krummels van jou keuse. Ek het tempura krummels gebruik vir ekstra bros-byt

Olie vir diepbraai

METODE:

Kook die eiers tot so gaar as wat jy daarvan hou. Ek gaan vir goedgaar, want ek weet hoe lyk salmonella onder ‘n mikroskoop. Nie so mooi nie. Ook nie die effek daarvan as iemand daarvan siek raak nie. In ‘n bak kombineer die varkworsie vleis, uit hul derm gedwing natuurlik, met die maalvleis. Breek die eier daarin by en meng goed. Geur met sout en peper en ander speserye, veral as jy nie varkworsies gebruik nie. Verhit die olie in ‘n pan. Lekker warm. Dop die gaar eiers af en rol elkeen in meel. Maak ‘n bolletjie vleis in jou hand, maak hom plat en vou die eier heeltemal toe met die vleis. Rol weer in meel. Rol nou die lotjie in die geklitste eier Bedek met die krummels. Braai elke eier tot goudbruin in die olie. Draai dit gereeld om sodat dit oraloor mooi gaar en bruin raak. As daar van die maalvleis oorbly kan jy dit net in frikkadelle rol en ook sommer in dieselfde olie braai. Niks hoef verlore te gaan nie! En daar het jy dit; Skotse eiers!

5 MINUTE SKONS

My 5 minute skons is letterlik so vining soos die uitglip van ‘n vloekwoord.

BESTANDELE:

500g bruismeel

250ml vars room

1 blikkie 300ml sprite

Sout

Meng alles saam en bak in ‘n kolwyntjie pan in ‘n voorafverhitte oond van 180 grade. Die bakproses vat sowat 15 min. Minder as jy ‘n patty pan gebruik om kleiner skons te kry. Dan nie meer as 5-7 minute nie.

KAAS SMEER

BESTANDELE:

250g botter

100g gerasperde geproseseerde kaas

100gr sterk cheddar

Paprika

Gemengde kruie

Knypie neutmuskaat

1 t mosterd

Kombineer alles in ‘n pan oor ‘n lae hitte. Roer die heeltyd, sodat geen klonte vorm nie. Sodra dit glad en gesmelt is, sit dit dadelik in ‘n skoon fles. Moenie te lank daarmee wroeg nie, anders skei die olie en die smeer word te dik.

Nou vir die belangrikste deel: Pak jou mandjie! En moenie ‘n lekker ”playlist” vergeet nie. Musiek is altyd belangrik. Iets outyds dalk?

‘n Mooi lap is van kardinale belang. Maak nie saak waar die piekniek gaan plaasvind nie. Jy kan altyd ‘n paar ongewensde elemente wegsteek onder ‘n mooi lap, met servette wat daarby pas. Messegoed, vurkies – verkieslik van volhoubare bamboes. Net nooit plastiek nie – dan maar eerder huisgoed wat gewas gaan moet word.

Papierborde, want die lewe is te kort om na ‘n lekker piekniek te kom skottelgoed was, maar mooi glase is natuurlik ‘n moet. Enigiets is lekker uit ‘n mooi glas. Al is die vonkelwyn kommin, proe dit soos ‘n MCC uit die regte glas en die vonkelwyn is natuurlik kommin, want jy weet iemand gaan weer sap daarby meng om ‘n mimosa te maak. Die goeie goed hou jy vir jouself en die geliefde wat dit kan waardeer vir na die piekniek om ‘n glasie te klink op ‘n lekker suksesvolle dag buite in die natuur en om jouself geluk te wens dat almal veilig, verkwik en in een stuk by die huis uitgekom het. Dat daar niemand op ‘n plek sit en beentjies swaaiend wag om gered te word nie.

1 thought on “PIEKNIEK EN PADKOS UIT ALMARE SE KAROO-KOMBUIS”

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: