SOSIAAL DIGITAAL

PHILIP MOOLMAN SING VIR ONS VETERANE

Die sanger en akteur Philip Mooman is na ’n musiekdroogte van ’n paar jaar terug op die kommersiële musiektoneel met ’n enkelsnit Twee jaar wat die storie vertel van “die lekkerste tyd in sy lewe, wat hy nooit weer wil oorhê nie.”

In Philip se kenmerkende Billy Joel-agtige stem, sing-vertel hy oor sy eie jare as dienspligtige, wat in 1993 deur voormalige president FW de Klerk afgeskaf is.

Militêre diensplig wat vir sommige mans van sy generasie nog ’n eina-rouwond is, maar ander vertel dié dienspligstories weer-en-weer by ’n plaaslike watergat of om ’n braaivleisvuur.

Tog, sê Philip, wat die liedjie self neergepen het, fokus dit op die positiewe aspekte van diensplig en nie op die negatiewe aspekte nie.

 “Ek het doelbewus gekies om op die tong-in-die-kies oomblikke te konsentreer, en van die slegte herinneringe te vergeet.” 

Philip, wat onder meer gedurende die tagtigerjare bekendheid verwerf het vir sy rol as Niel in die SAUK-sepie Sonkring, interpreteer Twee Jaar op sy eiesoortige kreatiewe manier. Só al asof hy as method-akteur ’n karakter in sy eie liedjie geword het.

Wel, sê Philip, dié liedjie is deur my mede-veterane geïnspireer.

“Ek het my eie persoonlike dienspligervarings met die van ander veterane gekombineer.”

Dit “karakterisering” vind veral neerslag in die volgende: “… onthou jy nog, was jy ook daar? Ons moes veg teen die groot gevaar. Tienerseuns van 18/19-jaar. Ek onthou nog my *Olympic-sak. My ma het my gehelp om dit te pak (in te pak). En toe het die army-trein en die Bedfords ons kom haal.”

Hoewel Philip vroeër vanjaar te sien was in Spoorloos 2 op kykNET, is die hoofrol wat hy nou die meeste geniet om te vertolk die van ambassadeur van die Veterane Bystandfonds, ’n nie-winsgewende maatskappy wat veterane bystaan met voedsel, klere, behuising en mediese hulp.

“Die veterane lê my baie na aan die hart omdat ekself ’n veteraan is wat vir twee jaar die nasionale dienspligpad moes stap. Daar is soveel van ons wat gedurende dáárdie tydperk van ons lewens seergekry het; wat nou nog sukkel met geestelike,- emosionele, fisiese en finansiele verwonding. “

Philip vertel dat dié Veterane Bystandfonds verlede jaar die voorreg gehad het om veterane-in-nood te help met mediese-uitgawes en -versorging. “Ons het ook bykans 25 000 borde kos aan diegene in nood verskaf. Ons subsidieer ook die verblyf en etes van veterane wat in versorgingsoorde woon.”  

Philip is nog lank nie uit die mode nie daar is net iets omtrent sy stem, sy persoonlikheid, sy menswees wat soos die Voortrekkermonument altyd met ons sal wees.

Twee jaar is soveel meer as net ’n onthou-liedjie; dit is ook ’n kuierliedjie met ’n treffende melodie en refrein wat nie net by dié veterane sal byval vind nie, maar ook by almal wat van luistermusiek met ’n oemf hou… en moet ook nie van die konsertina klanke, wat die gevoel van kuier-met-’n-lag-in-die-traan verder versterk vergeet nie.

Philip wil graag met Twee jaar groter bewusmaking vir die Veterane Bystandfonds skep om ten einde meer skenkers te werf vir Nasionale Diensplig-veterane in nood. Vir verdere inligting SMS die webwerf by  www.veteranebystandfonds.co.za

Luister GRATIS na die liedjie “Twee Jaar” – SMS die woorde “Twee Jaar” na 31429.

1 thought on “PHILIP MOOLMAN SING VIR ONS VETERANE”

  1. Wat ‘n tyd in die manne se lewes wat regtig sy merk op soveel maniere gemaak het. Ek was so dankbaar dat dit afgeskaf is en my seuns dit gespaar was.

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: