SOSIAAL DIGITAAL

OPWINDENDE NUWE AFRIKAANSE KRAGBALLADE VIR ROCKER, MARCEL DALMAYDA

Oor die afgelope agt jaar, het Marcel Dalmayda sinoniem geword met plaaslike rockmusiek. Dit is daarom geen verrassing dat sy nuutste enkelsnit, DIS HOE SY DANS, hulde bring aan hierdie einste genre waarvoor hy so lief is nie.

“Dis ’n rock-liedjie oor hoe musiek jou laat voel,” verduidelik hy. “Ek het dit oorspronklik vir iemand anders se projek geskryf, maar later besluit om dit vir myself te herskryf. Dit is ’n goedvoel-snit waarby almal sal aanklank vind.”

Hierdie kragballade is vervaardig deur Vonk Musiek se Tertius Human en word gekomplementeer deur ’n outydse styl rock-musiekvideo, wat op die dak van Blueberry Hill Hotel in Honeydew geskiet is.

“Ons het ’n aandvideo van die band wat op die dak van ’n gebou optree, met die stadsliggies in die agtergrond, beplan. Dit is deur Wian van der Walt verfilm en ek het elke oomblik van die proses geniet,” deel hy.

 

DIS HOE SY DANS is die kunstenaar se derde enkelsnit en volg in die voetspore van sy eerste Afrikaanse vrystelling, Bly Bietjie Langer, wat uitstekend ontvang is en steeds oor radiostasies landswyd gehoor kan word.

Marcel is reeds vanaf 2013 professioneel in die musiekbedryf doenig, maar het eintlik in die kleuterskool sy debuut op die verhoog gemaak toe hy vyf was.

Dié Pretorianer spog met ’n indrukwekkende lys loopbaanhoogtepunte, waaronder sy blinde oudisie op en deelname aan The Voice SA in 2016, verskynings op Noot vir Noot en Musiek Roulette en vele meer.

Musiek was nog altyd deel van hierdie sewe-en-twintig-jarige kunstenaar se lewe en hy is mal oor rockgroepe en -musikante soos Bon Jovi, Guns N Roses, Aerosmith, Billy Idol, Queen, Def Leppard, AC/DC en Mötley Crüe, wat almal ’n invloed gehad het op sy eie styl. Hy erken ook dat sy eie lewenservaringe en verhoudinge die grootste inspirasie is agter sy lirieke.

As hy ’n ander loopbaan moes kies, sou hy beslis ’n spioen wou wees, maar hy is baie tevrede met sy lewe soos wat dit is en geniet dit ook om ’n pa te wees.

Vir hom was die Covid-19 pandemie sover die grootste uitdaging van sy loopbaan. Hy sien egter uit daarna om weer te begin optree en ander besigheidsgeleenthede te ondersoek in die toekoms.

Met ‘n liedjie soos   DIS HOE SY DANS, is sy doelwit om homself plaaslik en internasionaal as ‘n rockmusikant te bewys, beslis binne sy bereik!

Die liedjie is nou op alle digitale platforms beskikbaar. 

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: