NEILL BLOMKAMP SE GRUWELFLIEK, DEMONIC IN FLIEKTEATERS LANDSWYD VANAF HIERDIE VRYDAG!

DEMONIC MOVIE POSTER

Die nuwe Neill Blomkamp, DEMONIC, is ‘n gruwelfliek met ‘n tegnologiese kinkel, wat jou van begin tot einde op die punt van jou stoel sal hou en dit open in fliekteaters landswyd hierdie Vrydag, 19 November 2021!

Die idee vir dié rolprent deur verskeie faktore geïnspireer, sê Blomkamp. “Die pandemie het baie van my ander projekte op ys gesit en ek wou iets doen wat ons kon beheer en verfilm. Daarom het ek besluit om my hand aan ’n gruwelprent te waag. Ek wou ook graag van nuwe tegnologie, genaamd volumetriese vaslegging, gebruik maak wat perfek vir hierdie genre werk. Ons moes dus ’n storie skep wat hierdie elemente insluit.”

AMPTELIKE LOKPRENT

DEMONIC gaan oor die stormagtige verhouding tussen ’n dogter en haar ma (wat ’n misdadiger is), nadat ’n mediese firma hulle ongewone herontmoeting ondersoek.  

Wanneer Carly (Carly Pope) uitvind dat haar vervreemde ma – Angela (Nathalie Boltt) – ’n veroordeelde massamoordenaar, in ’n koma is, stem sy teësinnig in om deel te neem aan ’n nuwe tipe terapie wat haar in staat stel om haar ma se kop binne te dring en met haar aktiewe brein te kommunikeer. Natuurlik kom hierdie avontuur met waarskuwings oor wat kan gebeur wanneer herinneringe deurmekaar raak of iets skeefloop.  

Onder die wakende oog van twee kenners, ’n dokter Michael (Michael J. Rogers) en ’n neurowetenskaplike Daniel (Terry Chen), dring sy die deurmekaar kop van haar ma binne en dinge verloop nie soos beplan nie – Carly ontdek ’n kragtige bonatuurlike element wat verantwoordelik is vir haar ma gewelddadige dade van twee dekades gelede.

Wanneer gebeure uit die verlede by haar begin spook, roep Carly die hulp van ’n ou vriend (Chris William Martin) in.  Dit is maklik om met Carly se karakter te identifiseer soos wat sy probeer om onderdrukte herinneringe te verwerk, met Martin se ondersteuning. Kandyse McClure sluit dan by hulle aan om die atmosfeer te verlig.

Blomkamp het baie nou saam met sy fotoregisseur, Byron Kopman, gewerk om die perfekte gevoel vir die rolprent op te tower. “Ek hou nie daarvan as die donker omgewing in ’n gruwelprent te veel beligting het en nagemaak lyk nie. So, om die beligting so eg en natuurlik as moontlik te maak was ’n groot punt van bespreking. Ons het byvoorbeeld tonele wat slegs belig is deur ’n kar se ligte of flitse wat die akteurs vashou – geen maanlig met rook wat in die lug hang nie.”  

In DEMONIC ontmoet tradisionele besetenheid moderne tegnologie.  Dit is dié Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer en regisseur se eerste poging in die gruwelgenre.  Dit bied ‘n innoverende mengsel van die bonatuurlike en wetenskapfiksie en word plaaslik versprei deur Filmfinity Edms (Bpk.).

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: