KYLE SEPTEMBER WAARDEER DIE “KLEIN DINGETJIES” IN DIE LEWE MET NUWE POPSNIT

little things

Kyle September is bekend vir sy opgewekte positiewe musiek en sy nuutste enkelsnit is geen uitsondering nie. LITTLE THINGS is ’n lekkerluister-popsnit, uit sy eie pen, wat daaroor gaan om die klein dingetjies in die lewe te waardeer wat vir jou vreugde bring. 

“Die pandemie het soveel spanning kom veroorsaak, dat baie van ons nie meer die lewe geniet nie,” verduidelik hy. “Ons fokus so baie op die groot goed, dat ons heeltemal vergeet van die klein plesiertjies wat vir ons vreugde kan bring. Hierdie liedjie herinner almal om vir ’n oomblik stil te staan en die klein goedjies te waardeer, al gaan dit dol.”

Volgens die sanger en liedjieskrywer, lê dié snit hom na aan die hart omdat dit die eerste nuwe liedjie is wat hy sedert 2018 geskryf het. “LITTLE THINGS is ’n prettige liedjie wat almal uit die staanspoor uitnooi om saam te sing en dans. Hierdie een is spesiaal van diegene wat van Zombieland hou.”

Hierdie enkelsnit is sy derde vrystelling sedert 2020 en volg in die voetspore van Sweetness en Analog Heart, wat albei uitstekend ontvang is en gereelde radiospeeltyd op nasionale radiostasies landswyd kry.

Kyle is al vir die afgelope tien jaar in die musiekbedryf doenig en spog met ’n honneursgraad in BMus van Wits School of Arts. Oor die jare, het hy verskeie loopbaanhoogtepunte gehad, insluitend sy optrede by Afriski, ’n openingsvertoning vir Francois van Coke by die Misty Waters-fees, en om saam met Graeme Watkins ’n aanlynvertoning te hou gedurende grendeltyd.

Alhoewel hy vier-en-twintig-uur per dag aan musiek dink, geniet die musikant ook sport en is hy al sedert 2009 ’n deeltydse afrigter. Hy is tans besig om sy debuut-album, wat volgende jaar vrygestel word, te finaliseer. LITTLE THINGS is ’n goedvoel-liedjie wat sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme.

LAAI DIT AF HIER

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: