JOSHUA NA DIE REËN SE NUUTSTE ENKELSNIT HERINNER ONS HOE NOU ONS AAN GOD EN DIE SKEPPING VERBIND IS.

joshua na die reen

Die multi-bekroonde musikant, Joshua na die Reën, het lankal reeds die kuns bemeester om luisteraars te bekoor met sy aangrypende musiek en sy nuutste enkelsnit, ARENDE, is net nog ’n bewys hiervan.

Hierdie kontemporêre snit, wat hy self geskryf het, is eie aan die unieke styl waarvoor hy bekendheid verwerf het en kombineer sielvolle lirieke en ’n meesleurende wysie om ’n merkwaardige eindresultaat te skep.

“Die idee vir die liedjie is gebore gedurende ’n vakansie in Spanje saam met my gesin en skoonfamilie. Ons het bo-op ’n berg gebly en ’n mooi uitsig gehad oor die landskap en omgewing.

Daar was elke dag arende wat in die lug gesweef het en hulle het my verbeelding aangegryp,” vertel hy. “Dit het my ook laat dink aan Hoekwil in Suid-Afrika. Daar is groen gras, blou lug, woude, berge, waterstrome en bome, onder andere een reuse geelhoutboom. Ek het al baie gewonder hoe die jaarringe binne-in dié boom lyk en besef watter rykdom en diepte daarin lê om so stadig soos hy te groei en dat hierdie boom ook van die arende en hulle swerftogte weet.”

Hierdie ervaring het hom laat besef dat ons baie meer met God, mekaar en die natuur verbind is as wat ons besef en dat die liedjie juis oor hierdie verbintenis gaan. “Hoe meer ek God leer ken, hoe meer besef ek dat die boksies wat ek in my kop gehad het oor wat deel is van Hom en wat nie verdwyn. Ek kan sien hoe Hy met ons gesels en deel is van ons lewens op ’n manier wat in alle opsigte uitskree: ‘Ek wil saam met jou leef’,” verduidelik hy. “Ek hoop my jaarringe kan eendag praat van verbintenis en eenheid en ’n bewustheid om saam met alles om my te ‘wil leef’. Soos die Arende en Geelhoute en al die ander bewoners van ons skepping.”

ARENDE, wat beslis ’n gunsteling onder Afrikaanse musiekliefhebbers gaan wees, is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

KRY DIT HIER:

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: