SOSIAAL DIGITAAL

INTERNET IN DIE ETER

In die vroeë negentigs het die X-Files ons laat glo dat die waarheid daar buite skuil. Die gewilde reeks was dalk geduimsuig deur talentvolle Hollywood skrywers, maar soos ons al beleef het hoe Star Trek moderne selfone geïnspireer het, het wetenskapsfiksie die vermoë om bloot wetenskap te word. Die waarheid is dalk nog nie daar buite nie, maar binnekort gaan jy jou oë na die sterre rig en ʼn nuwe konstellasie sien. Dit is daar waar die internet in die eter sal posvat.

Suid-Afrikaans gebore sake magnaat, Elon Musk, se maatskappy, SpaceX, is daad- werklik besig om ʼn globale kommunikasie stelsel te bou wat beoog om internetoegang te verskaf. Die internet veskaffer, wat as Starlink bekend staan, is besig om ʼn satellietnetwerk in te span wat toegang tot die wêreldwye web vir enigiemand op die aarde moontlik sal maak.

Starlink se eerste fase het reeds in 2015 teen ʼn koste van $10 miljard begin en sal in die finale fase uit ʼn konstellasie van ongeveer 40 000 klein satelliete bestaan wat om die aarde wentel.

Die satelliete kommunikeer met mekaar en ontvangers op die grond en sal moontlik die behoefte vir infrastruktuur soos optiese vesel, 4G-selfone en koperkabels heeltemal uitskakel. Al wat jy sal benodig om aanlyn te gaan is kragtoevoer, kabels, jou Starlink wifi-router en skottel wat jy met behulp van ʼn selfoon-toep sal kan op stel.

In ʼn wêreld waar slegs 63,2 persent van die aarde se bevolking toegang tot die internet het, het Starlink die potentiaal om die manier hoe ons inligting bekom heeltemal te verander. In lande waar die internet deur die regering gereguleer word sal verbruikers dit kan gebruik om inligting vrylik te bekom en selfs om sensuur te omseil.

In afgeleë streke, waar dit nie sin maak vir verskaffers om in infrastruktuur te belê nie, sal verbruikers uiteindelik toegang tot vinnige breëband internet kan hê. Starlink is huidiglik in sy Beta fase waar hulle internet teen n gemiddelde spoed van 110 Mps op en af kan lewer.

Dienste word egter beperk tot dele van Noord Amerika en ʼn paar ander lande en behoort eers teen einde van 2022 in Suid-Afrika beskikbaar te wees.

“Nou wat beteken dit vir ʼn boer wat ʼn Youtube video in die middel van die Hantamberge wil kyk?”

Nou wat beteken dit vir ʼn boer wat ʼn Youtube video in die middel van die Hantamberge wil kyk, of vir skoonma wat haar sepies op ‘’Netflix’’ wil inhaal terwyl sy vakansie hou op Elandsbaai?

Jou 4G slimfoon kan inligting teen ʼn gemiddelde spoed tussen 15-25Mps aflaai. Starlink se 110mps is dus amper 8 keer vinniger as die gemiddelde 4G en internet spoed en jy behoort ‘n 1 Gb film af te kan laai binne ‘n minuut en ‘n half, teenoor die 12 minute wat dit jou gewoonlik sou neem.

Alles is egter nie maanskyn en rose nie. DIg wolke kan moontlik direkte sein blok tussen jou skottel en die satelliete, dus kan slegte weer jou internet spoed negatief beïnvloed. Jy sal ook glad nie met jou Starlink stelsel kan pendel nie. Dit is nie ʼn draagbare toestel nie en elke ontvanger word geregistreer by ʼn adres wat deur Starlink se konstelasie gedek word. Jy sal dus nie jou Starlink-router, soos jou LTE-router, saam met jou op vakansie kan neem nie.

FOTO DEUR: TECHCRUNCH

Die grootste kopseer gaan moontlik gevoel word deur mense wat in stedelike gebiede, of dig bevolkde areas bly. Starlink se internet spoed hang nie net af van hoeveel satelliete bo jou wentel nie, dit word ook bepaal deur die hoeveelheid verbruikers wat die netwerk gebruik. Hoe meer mense aanlyn is hoe stadiger gaan die spoed wees. Nog ʼn seer punt is die kostes. Jy gaan $499 moet uitlê om die nodige hardeware te koop, en dan gaan jy nog ʼn verdere $99 per maand subskripsie fooi moet opdok. As jy in ‘n stedelike gebied woon gaan ʼn vinnige veselnetwerk nogsteeds meer ekonomies as Starlink wees, maar as jy in ‘n afgeleë gebied woon, waar daar vir die volgende 50 jaar nie veselnetwerke gaan wees nie, is dit moontlik iets om te oorweeg.

Hoe dit ook al sy, Elon Musk is reeds besig om die ‘status quo’ te ontwrig en met Starlink wat vanaf sekere dele op aarde reeds sigbaar is, sal ons dalk eendag meer as die Suiderkruis of Die Jagter se Belt in ons hoek van die hemelruim kan uitken.

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: