SOSIAAL DIGITAAL

INTERNATIONALE SPOOKVERTELLING

JY IS NIE ALLEEN IN DIE WHALEY HUIS

Saamgestel en oorvertel deur Jaco Hough-Coetzee

Sel no. 076 319 1660 en e-pos spookbus@gmail.com

Dit is vroegaand in San Diego, Kalifornië. Robin Sweeton, bestuurder en hooftoergids van die Whaley Huis-museum (The Whaley House), maak haarself op die boonste verdieping gereed vir die publieke toer deur die museum wat binnekort sal begin. As sy in die gang verby die hoofslaapkamer stap, sien sy uit die hoek van haar oog iets snaaks in die kamer.

Nuuskierig loer sy in: ja, sy het haar nie verbeel nie – die hele kamer is gehul in ‘n digte wit mis, sien sy verbaas. Toe, net so onverklaarbaar, ruik sy die reuk van soet pyptabak. Op daardie oomblik lui die voordeurklokkie. Robin hardloop af om die deur vir die toergaste oop te maak, maar toe sy later teruggaan na die slaapkamer was daar geen teken van die mis of die tabakreuk nie.

Maar hierdie gebeurtenis wat Robin in die middel 2000’s daar beleef het, was net een van vele, vertel sy.

Boonop is die talle spookverskynsels in die Whaley Huis deur ál die verskillende menslike sintuie – naamlik sien, voel, hoor en ryk – waargeneem.

“Toergangers het al gevoel hoe iemand onsigbaar aan hulle vat”

Toergangers het al gevoel hoe iemand onsigbaar aan hulle vat, voetstappe word deur die huis gehoor, tabak- en parfuumreuk word waargeneem. Sensitiewe gaste het al vir Robin vertel hulle sien ‘n man agter haar staan terwyl sy besig is om die geskiedenis van die huis te vertel. Tydens ‘n ander geleentheid het heldersiende mediums dit bevestig en gesê hulle dink dit is die oorspronklike eienaar van die huis, Thomas Whaley, wat kom seker maak sy het haar feite reg.

Dié huis, wat vandag ‘n museum is, het inderdaad ‘n baie donker geskiedenis met baie spoke wat daar ronddwaal . . .

Die dubbelverdieping huis is in 1856 deur ‘n invloedryke sakeman, Thomas Whaley, gebou wat destyds as die mees modernste huis in Suid-Kalifornië beskou is. Min het hy toe egter geweet hoeveel tragedies daar nog sou afspeel.

Die eerste sinistêre toeval was die terrein wat Whaley gekoop het om die huis op te bou. Dié terrein is van te vore gebruik om misdadigers te hang, en een van die bekendste gevalle was die van die dief Yankee Jim Robinson. Hy was ‘n buitengewoon lang man. As gevolg van sy lengte het sy voete die grond geraak met die valslag en is sy nek nie gebreek nie. Hy is worstelend, stadig en baie pynlik deur die tou om sy nek dood gewurg.

Twee jaar na Whaley en sy vrou, Anne-Eloise, in hul nuwe huis in getrek het, sterf hul 18-maande oue seun aan koors.

Heelwat later, in 1885, pleeg hul dogter, Violet-Eloise, selfmoord met haar pa se vuurwapen. In die nota wat sy agter gelaat het, het sy geskryf: “Mad from life’s history, Swift to death’s mystery. Glad to be hurled; Anywhere, anywhere out of this world.”

Thomas sterf self in die huis in 1890 en Anna-Eloise in 1913. Die huis bly egter in die Whaley familie tot die laatste erfgenaam in 1953 daar sterf. Met geen erfsate meer oor nie, is die huis deur die staat oorgeneem. Die huis is gerestoureer en is in 1960 as die “The Whaley House Museum” vir die publiek oopgestel.

Maar Thomas en Anne, saam met baie ander, bly tot vandag toe nog in die huis. Baie gaste het al sy sigaarrook en haar parfuum geruik. Haar figuur is ook al in ‘n wiegstoel opgemerk en sagte klavierspel is gehoor. Hul babaseun is ook altyd naby terwyl hy of lag of huil as hy deur die huis beweeg. ‘n Jong meisie, vermoedelik Violet-Eloise, word weer op die boonste verdieping gesien.

En dan is daar ook die gees van Yankee Jim Robinson wat nog daar ronddwaal op die terrein waar hy gehang is.

“Toeriste wat vandag die huis-museum besoek, is altyd op die uitkyk”

Toeriste wat vandag die huis-museum besoek, is altyd op die uitkyk vir gordyne wat onverklaarbaar beweeg, kindergeluide, koue kolle of skaduwees teen die mure. Want hulle weet, hulle is nie alleen daar nie . . . 

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: