SOSIAAL DIGITAAL

ROOI PAPAWERS EN PASTA

UIT ALMARE FOURIE SE KAROO-KOMBUIS

TV-AANBIEDER ALMARE FOURIE EN RIA FIVAZ

Poppies. Rooi poppies, of papawers soos die meer gereelde tuinier hulle eerder sal noem. Die rooies, nie die pastelkleurige outjies nie, nee! Vir my moet hulle rooi wees. Ek kan my verkyk aan hulle papierdun blaarjies en die amper geheimsinnige donkerte van hulle harte. Die mooi wat saam met vroeg lente kom. Soos wat hulle oral in Florence uitslaan sodra die weer begin warmer word. Dan onthou ek weer ‘n lente toe ons ‘n trein agternagejaag het met ‘n geliefde op en ek onthou hoekom die donker harte van poppies my laat dink hulle is geheimsinnig. Dit is presies soos wat die Italiaanse plattelandse treine gewerk het. In geheimenis gehul. Wat maak dat die verkeerde mense op die verkeerde treine klim, ander hulle met ‘n bus moet agternasit en gaan haal op ‘n sprokiemooi, verlate stasie waar hul van die trein afgegooi is omdat die noodrem uit paniek getrek was?

Al wat dan die dag weer kon red, was om vir die arme geliefde op daardie stasie ‘n handvol rooi poppies langs die pad te pluk. Die dat ‘n bui lentereen nie haar eie donker bui verbeter het nie, en natuurlik om kos en wyn aan te bied. Wat in Florence geen probleem was nie. 

Die Italianers ken nou maar eenmal die kuns om die wonderlikste geregte op te tower met die eenvoudigste seisoenale vars produkte; Tamaties wat na sonskyn ruik. Pomadoro. Eiervrug wat die ‘’show’’ steel. Malanzane. Altyd met vars kruie en olyfolie en knoffel. Ek kan my oë toemaak en amper al my sintuie toelaat om te onthou. O, dan die onthou van truffels…’n lewensveranderende ervaring!

Daar het darem meer as daardie twee Italiaanse woorde saam met my teruggekom na ons eie pragtige sonnige land; onwettige tamatie saad, poppie saad (wat ek self daar geoes het en in ‘n kous terug gebring het) en natuurlik resepte! Van tuinmaak weet ek nou rerig nie so baie nie. Om die waarheid te sê is my naam, plante en die uitdrukking: ”serial killer” al in dieselfde sin gebruik. Onrusbarend gereeld.

Maar ek het nou maar eenmaal ‘n passie vir ‘n tamatie. Sodra ek ‘n besonder lekker tamatie in die hande kry, probeer ek altyd om van die pitte in my kruietuin plant. Het nog nooit ‘n oes gehad om mee te spog nie, maar ek hou ook nie op nie.

Kruietuin, dis nou die klein lappie grond buite my agterdeur met net ‘n oorgroeide roosmaryn plant in. Die meerjarige basieliekruid, natuurlik die weergalose pasmaat van ‘n tamatie, het sy knie onder my tuinvaardighede gebuig. Die ander kruie wat ek in oomblikke van inspirasie vir rukke aan die lewe kon hou is almal deur ‘n ‘’over-achiever’’ uitgewerk. My les hier was dat mint nie saam met enige ander krui geplant moet word nie. Hy ken eenvoudig nie die einde van sy perke nie. So nou koop ek maar my tamaties by Dawie ‘vannie’ plaas en my kruie waar ek kan. In dankbaarheid dat ons in die land van melk en heuning en vars groente en kruie op winkelrakke lewe.

Dan maak ek my eie pasta en ek maak souse daarby soos wat ‘n goeie soustannie betaam. Souse so vars soos die lente self.

TUISGEMAAKDE PASTA

ALMARE ROL PASTA DEEG UIT

Natuurlik kan jy enige pasta op enige rak by jou gunsteling winkel kry. Selfs vars (a.k.a. tuis gemaak, maar nie JOU tuiste nie) pasta is deesdae oral te kry. Waar jy in tydsbesparing wen, verloor mens dikwels in die genoegdoening van ek het self… Dan weer; wie gaan weet as so ‘n ligte leuentjie sou uitglip? Steek net die regte pasta maker se verpakking goed weg.

Maar die plesier om met die deeg te werk, dit te hanteer, te vorm, uit die kookwater te lig en dan proe jy wat mense al vir duisende jare proe: ongeëwenaarde pasta passie.

BESTANDELE

Gebruik een eier vir 100g koekmeel. 3 eiers vir 300g lewer 500g vars pasta. ‘n Goeie Italiaanse porsie is volgens oorlewering sowat 130 gr per persoon. Maar hulle eet nou nie soos ons nie…

WENK

Vir normale vars pasta het jy net eiers en meel en dalk so ‘n bietjie water nodig. Wanneer jy die deeg begin meng mag dit dalk vir jou te droog lyk, maar wanneer dit vir ‘n rukkie gelos word om te rus, word dit meer vogtig. Wanneer jy dit nou weer deurmeng sal dit elasties, maar nie klewerig wees nie.

METODE

Om die deeg te begin maak, meng die eiers en meel in ‘n mengbak met die een hand se vingerpunte. Dit sal effens korrelrig lyk. Moenie daaroor ‘’stress’’ nie, maar as die deeg nie eers wil bymekaarkom nie gooi ‘n baie klein bietjie water by. Onthou een van die goue reels van kook is dat jy altyd weer kan byvoeg, maar uithaal, nooit. As jy twyfel of dit nou al die tyd is vir ‘n druppel water; moenie dit doen nie.

Bedek die deeg goed met kleef plastiek en laat ten minste 20minute rus. Hoe langer dit rus, hoe beter is die deeg.

Na die rustydperk, haal die deeg uit die kleefplastiek en plaas dit op ‘n liggies meel bestrooide oppervlak.

Begin nou die deeg te knie deur net die polskant (“heel”) van jou hand te gebruik. Werk deurgans na binne. Bly om die deeg te beweeg in die rondte soos wat jy dit knie. Die deeg sal nou glad word.Bedek weer met kleefplastiek en laat rus soos tevore. Na die rustyd, knie weer. Hierdie knie en rus proses word so vierkeer herhaal. Ja, dit vat lank maar ten minste hoef jy nie die lotjie dop te hou terwyl dit rus nie. Dis die tyd wat jy gebruik om jou sous te begin of seker te maak of die rooiwyn nog reg is… as mens wel te veel proe of die wyn nog reg is, kan sousfoute begin gebeur. Ek kan daarvan getuig.

Na die laaste ruskans, gaan haal jy jou pastamaker aaagter uit die kas waar jy dit gebêre het kort nadat jy dit present gekry het. Verdeel die deeg in kleiner dele. Maak balletjies net groot genoeg om, wanneer plat gemaak om deur die pasta roller te gaan. Daar is geen verkeerd nie. Maak die proses jou eie. Speel met die deeg. Laat jou innerlike kleuter vry!

ALMARE SE PASTA ROLLER

Stel die pasta rollers op die verste uitmekaar. Gewoonlik gemerk met ‘n 1. Rol dit 2 keer deur 1, stel na 2, rol deur, stel na 3, rol deur, ens. Totdat jy hou van die dikte van jou pasta. Dit sal nou al sulke laaaang velle wees. Nou rol jy dit deur die anderkant van die masjien om Tagliatelli/Linguine te maak. Die pasta moet rus of effens uitdroog voordat jy dit vir net sowat 3 – 5min in soutwater kook. As jy nie hangplek het nie – gebruik skoon hangers!

‘N SITKAMER VOL PASTA

SOUSE

TAMATIE PASTA SOUS

My weergawe van ‘n Puttenesca. My geliefde het gedink dat my swear, Corlius s’n die lekkerste in die wêreld was; totdat ek haar hiermee bederf het. Puttenesca kom van Naples waar dit ironies genoeg na die oudste professie vernoem is: Lady of the night. Storie gaan dat ‘n “lady of the night” uit die inkomste bekom van haar eerbare werk vir haar ‘n restaurant gekoop het en hierdie sous daar bedien het. Dit is wel ‘n baie sexy sous…

Hierdie resep bedien 4 ruim porsies, met ‘’leftover delight’’ vir more…

TAMATIE PASTA

BESTANDELE

500gr tuisgemaakte pasta

Sowat 800gr ryp tamaties, opgekap sonder die skil of pitte

8 E goeie (virgin?!) olyf olie

4 – 6 anchovy filette

15 kappertjie sade (capers)

100gr ontpitte swart olywe – gekap

1 bondel vars italianse pietersielie

6 knoffel tone – gekap, natuurlik

Halwe chillie, opgekap en sade verwyder

Growwe sout en peper

2 glase goeie swaar rooiwyn – Ek is nou maar eenmaal ‘n Shiraz fan.

Parmesan skaafsels

METODE

Verhit die olie in ‘n lekker swaarboom pan.

Breek die anchovy fillette op in stukkies. Braai dit saam met die kappersaad, knoffel, olywe en chillie.

Voeg die tamaties by. Draai die hitte effens af en sit die deksel op. Laat kook lekker stadig totdat die tamatie sag is en die sous begin verminder.

Drink nou 1 glas wyn, terwyl jy 1 glas wyn by die sous ingooi.

Laat net nog so ‘n rukkie prut – die sous, nie jy nie – dan sit jy die pietersielie by. Geur met sout en peper.

Haal van die stoof af en kook jou pasta.

Sodra dit effens afgekoel het, gebruik ek ‘n staaf menger en maak die sous fluweelgald. ‘n vinnige warmmaak op die stoof, en jy is reg om te bedien.

Bedien bo-op die pasta met ruim parmesan skaafsels bo-op.

Nou weet jy hoe die dames van die nag hul energie bekom het…

EIERVRUG PASTA SDUS

Hierdie resep is my eie maaksel, en ek moet erken die resep verander elke keer as ek dit maak. Dit hang alles af van wat in my yskas, op die winkelrak of in my kop is.

Maar hier is so min of meer die basiese resep, wat maklik 4 – 6 mense kan voed. As daar minder mense is, goedso, want more is hierdie sous fabelagtig op ‘’toast’’ of ‘n beskuitjie.

EIERVRUG PASTA

BESTANDELE

4 groot, mooi, diep pers eiervrugte. In die lengte gehalveer.

Genoeg olyfolie om oor die eiervrug halwes te sprinkel

1 heel knoffelhuisie, in sy breedte, middeldeur gesny

1 rooi ui – gehalveer

Sout en peper

Vars origanum blare. Marjolein werk ook lekker.

2 ringe feta

500ml vars room

1 glas witwyn – iets wat nie te droog is nie, soos ‘n chenin of ‘n chardonnay

3 E Truffel tapenade. Of 4 as ek rerig baie van my gaste hou…

Parmesan vir bediening

METODE

Plaas die eiervrug, die knoffel en die ui op ‘n bakplaat. Rooster in die oond op 180 grade C tot die eiervrug gaar en die knoffel mooi sag is. Sowat ‘n halfuur.

Haal uit die oond en laat net genoeg afkoel sodat dit hanteer kan word.

As jy wil kan jy die eiervrug se vlees uitskep met ‘n lepel, maar ek hou van die kleur wat die skil bydra. Ek sny die eiervrug – skil en al – in blokkies.

Druk die gaar knoffel uit sy skil. Dis heeltemal reg om jou vingers af te lek, geroosterde knoffel is hemels. Onthou net om die vingers weer met ‘n lap by te kom voordat jy aangaan.

Sit die eiervrug, knoffel en ui in ‘n pot.

Krummel die feta in.

Gooi die room oor.

Sout en peper tot jy daarvan hou.

Kruie kom nou ook by.

En moenie die wyn vergeet nie.

Kook die lotjie totdat alles goed gekombineerd is en begin verdik.

Maak dit fyn met ‘n staaf menger – nie te fyn nie – ek hou van ‘n effense tekstuur.

Sit die truffels in en kook net genoeg deur om daardie hemelse geur regdeur jou sous te kry.

Dien op met parmesan oor jou eie tuisgemaakte pasta.

Skink nou vir jouself ‘n glas wyn en luister na jou gaste se geluide. Dit is op hierdie oomblik wat ek weet waarom ek hou van kosmaak. Dan skep jy vir jouself lekker ruimhartig op.

Hierdie lente plant ek natuurlik alweer ‘n klompie tamatie saad. Dan hou ek hulle met opgewondenheid en hoop dop. Pluk dalk as ek gelukkig is met dankbaarheid my enkele vrug en prop dit plotselings in my mond voordat my geliefde, wat op Castile stasie gered moes word, snuf in die neus kry. Ek deel ook nou nie so vrygewig my tamaties soos wat ek met resepte doen nie.

Intussen spaar ons maar weer om terug te gaan Italië toe. Weer in die lente. Om weer die oordadigheid van plate rooi poppies te sien. Om my weereens te vererg omdat hulle beldadig groei sonder dat hulle gesaai en opgepas word. Om te gaan saad koop en weereens te droom van die mooiste verskeidenheid pomadoris. En terugkom met meer fotos van pomadori en malanzane as van die geliefde…Sal maar natuurlik weer ‘n plantseltjie insmokkel tussen my klere. Saam met swart truffels natuurlik. My voorraad is juis nou op…

Leave a Reply

Education Template

%d bloggers like this: